Tuesday, November 18, 2008

Vuur en vlam vir Braaidag

Stellenbosch, 24 September 2008 – Net ‘n bondel syfers en letters vir diegene wat nie beleef het wat die Quercus Staatmakers en hul onverwante gaste daardie dag ondervind het nie. Hierdie dag sal voortleef in hul geheue as ‘n dag van pret, plesier, goeie geselskap, ou vriende, nuwe vriende, warmte in die koue, lekker koeldrank, lekker kos... Aan die algemene publiek staan hierdie dag bekend as Erfenisdag of Nasionale Braaidag.

Die geselligheid het die middag afgeskop nadat die meerderheid mense opgedaag het, alhoewel hul aankoms op Staatmakertyd was (nie stiptelik nie, maar seker). Nie-Voortrekkers is ook uitgenooi na die viering toe en talle het opgedaag. Statistieke is vervelig, maar 4 uit elke 10 mense was onverwante gaste.

Soos dit ‘n Voortrekker betaam is ‘n vuur so gou as moontlik aangesteek (binne ‘n veilige afgebakende area spesifiek ingerig vir dié doel). Die vuur het almal teenwoordig van warmte en lig verskaf deur die res van wat ‘n koue Stellenbosch lentedag was. Nadat die vuur aangesteek was het die kuier begin. Die vuur was die enigste sosiale stimulant wat Quercus benodig het.

Almal het lekker saam gekuier en sommiges het Erfenisdag op ‘n unieke manier gevier deur een van Afrikaans se stamtale, Duits, te gebruik in hul gesprekke. Nadat hul vuur die einde van sy kort leeftyd bereik het, het die Staatmakers hul kos op die kole voorberei soos hul voorouers dit moes gedoen het. Elkeen het ‘n geleentheid gekry om die vleis te draai en sodoende te deel in hierdie belangrike uitbeelding van ons erfenis.

Die voorsitter van Quercus, Jacques Louw, was nie beskikbaar gewees vir kommentaar na afloop van die braai nie weens ander verpligtinge. Die Erfenisdagviering was ‘n reuse sukses. Almal het dit geniet en het gesê dat hulle in die toekoms beslis weer sal deelneem. Ter herdenking van die gebeure op hierdie dag gaan Quercus elke jaar op 24 September dié dag op dieselfde wyse vier sodat toekomstige Staatmakers Quercus se ryk erfenis eerstehands kan ondervind.  

0 comments: