
Die laaste naweek van die universiteit se September vakansie, het ’n stuk of tien staatmakers uit die Kaapland streek bymekaar gekom vir die jaarlikse saamtrek. Die mees verteenwoordigende groep was natuurlik die staatmakers van Quercus, Stellenbosch. Die groep van Setlaars het twee verteenwoordigers gehad en George van Tygerberg het ook die kamp meegemaak.
Die Vrydagaand teen ongeveer aguur was alle kampgangers reeds op Wemmershoek, waar hulle in die trein begin nesskrop het. Die eerste aand was die kombuis span so te sê op bystand, behalwe nou vir die braaibroodjies wat hulle voorsien het. Die staatmakers het hulle eie vleisie op die kole gegooi en lekker gekuier om die vuur, terwyl die weer ons so genadig was.
Die Saterdagoggend het Jacques die rontes gedoen om almal uit die bed te kry. Teen tienuur, na ’n koppie koffie en ’n stewige ontbyt deur nig Barbie, is die vergadering geopen. Die besprekingpunte het nie werklik iets opgelewer wat ’n mens as reviolusionêr sou beskryf nie, maar alles wat gesê is was die moeite werd en in een of ander sin nodig.
Na die middag het diegene wat nog oorgebly het hulle self begin gereedmaak vir die middag se vermaak. Verfbal, wat vinnig besig is om die staatmakers se nuwe amptelike sport in die Wes-Kaap te word, is net wat ons nodig gehad het op ’n luilekker, warm Saterdagmiddag… Die hitte het die dik klere weggehou en die verf, saam met die sweet het geloop. ’n Pouse tussendeur met koue koeldrank was genoeg om asem te skep en vir Louw en Hendrik om te besluit dat dit nou tyd was vir kaal bolyf. Nodeloos om te sê dat die stryd in iets soortgelyk aan selfmoordbomaanvalle geëindig het. Soos die staatmakers minder en minder omgegee het oor die verfkolle en pyn van die harde balletjies het die pretfaktor en bloukolle toegeneem.
Nadat almal hulself onder ’n stort gehad het, was ons reg vir die aand se mafia dinee. Hier moet ek darm nou eers myself onderbreek om vir nig Barbie dankie te sê vir ‘n ongelooflike aand. Die kos, dekor en sommer alles was puik. Die ete is gevolg deur ’n spel poker. En net voordat sommige “alles” verloor het is dit beëindig deur die voorstel dat ons eerder om ’n vuur kan gaan kuier. Dit was winderig maar nie koud nie, en die gees was nog sterk.
Sondagoggend het Jacques se gewildheid as voorsitter ’n algehele laagtepunt beryk toe hy bykans almal dou voor dag uit die bed jaag het. Dit was ook maar goed, want Sias Mostert was reeds daar. Die oggend se ontbyt is gevolg deur bybelstudie gelei deur Sias. Daarna het ons die vinnige proses van opruim afgehandel voordat almal begin verdaag het.
Ek dink ek kan vir almal praat as ek sê dat dit rêrig ’n ongelooflike naweek was. En daarvoor dink ek skuld ons vir Jaqi ’n groot dankie, wat alles op sulke kort kennisgewing gereël het.